AGTERGROND

Ons spesialiteit

KLK is trots op die verskeidenheid en samestelling van sy besigheidseenhede.

KLK is betrokke by die verskaffing van landboubenodighede, boumateriaal, brandstof, vleisverkope, huide en velle sowel as die verpakking en uitvoer van rosyne.

Ons storie

Die ontstaan van KLK – of soos dit voorheen bekend was – SAKK is sinoniem met karakoelpels. Sedert die eerste 11 karakoelskape in 1907 uit die destydse Suidwes-Afrika ingevoer is, het die bedryf snel ontwikkel. Die behoefte om georganiseerde optrede was van meet af ʼn prioriteit onder karakoel boere. Dit het dan ook gelei tot die stigting van diè koöperasie op 24 September 1941. Op 28 November 1941 word SAKK dan ook amptelik as ʼn koöperasie geregistreer.

Stories rondom daardie begindae is legio – veral die stories rondom die smokkel van karakoelskape snags oor die grens wat vandag nog dikwels oorvertel word. Die koöperasie het gou sy voete gevind en was instrumenteel tot die groei van die bedryf. Met die loop van die jare is die behoefte van lede aangespreek ten opsigte van die insetkant en is die Handelsafdeling tot stand gebring waarvan die omset vanjaar die R600 miljoen kerf verbygesteek het. Soos dit met so baie landbou bedrywe gaan, het ʼn paar faktore daartoe gelei dat die prys van die pelse gedaal het en die produksie van pelse drasties begin afneem het. Dit is interessant dat die produksie van pelse aan die einde van die sewentiger jare meer as twee miljoen was en vandag afgeneem het tot minder as twintig duisend pelse per jaar.

Die Direksie het besluit om te diversifiseer en in 1982 is begin met die bemarking van vleis. Die daling van die pryse van pelse het daartoe gelei dat die boere hoofsaaklik na dorper boerdery oorgeskakel het en het indirek daartoe gelei dat die Maatskappy vandag betrokke is by veilings, verslagting en uit-die-hand transaksies.

ʼn Verdere belangrike gebeurtenis was toe SAKK die belange van BKB in die Noord-Kaap uitgekoop het. Een van die voorwaardes was dat die koöperasie se naam verander en het Karakoel- en Lewendehawe Koöp. Bpk. tot stand gekom. Daarna het die onderneming toegetree tot die motorbedryf en brandstof, ʼn versekeringsafdeling is gevestig, voerkrale is opgerig en die abattoir op Upington is bekom. Langs die pad is ook almalgamasies met Trans-Oranje Koöperasie sowel as Kenhardt Vleiskoöperasie, twee nuwe takke op Rietfontein en Keimoes onderskeidelik, is bygevoeg. Hierdie gebeurtenisse het KLK-Koöp se bedryfsgebied aansienlik vergroot en ruimte geskep om finansieel te oorleef en groei.

Die Koöperasie is op 17 September 1997 omskep in ʼn Maatskappy met aandeelhouers wat dieselfde was as die lede van die Koöperasie. Daar was geen keer aan KLK se groei nie en word oor die volgende 10 jaar bygevoeg die Veilingsentra’s van Karoo Osche te Kuruman, Postmasburg en Olifantshoek; handelstakke van Suidwes Beleggings te Kuruman en Hotazel; Oranje Meganies met die Nissan agentskap en vulstasies; Hamiltons en Carnarvon abattoir; Verspreidingsdepot van BP-petroleum op Upington en ook Wes-Karoo Koöperasie wat insluit handelstakke, vulstasies en ʼn abattoir.

Gedurende die afgelope tien jaar het die ontbondeling van Meattrust/Just Lamb plaasgevind en het KLK se eie vleisbemarkingsketting gevestig asook vier Build it boubenodighede winkels op Kathu, Kuruman, Postmasburg en Upington toegevoeg tot sy handelsnetwerk.

Die Thembeka SEB-transaksie is ontbind waarna die 20% belang in KLK teruggekoop is. Meer onlangs is Ramskop Abattoir opgegradeer en is ‘n beeshuid verwerkingsaanleg (natblou) te City Deep verkry, wat deel vorm van die SA Dorper Groep waar dorpervelle berei word vir die Italiaanse modemark en huide in natblou vorm vir die motorindustrie verwerk word. In 2015 is 50% aandeel in Carpe Diem Raisins verkry. In Julie 2020 het KLK dan ʼn verdere 30% aandeel in Carpe Diem Raisins verkry en besit nou 80% aandeel teenoor van der Colff Beleggings wat 20% aandeel besit.

Dit is dan die geskiedenis van KLK in ‘n neutdop – die verhaal van die veeboer se eie organisasie in hierdie harde, maar tog ook dankbare en oorvloedige wêreld wat gegroei het tot ‘n dinamiese maatskappy met ‘n omset van meer as R2000-miljoen per jaar.

Hoofkantoorgebou

Die hoofkantoorgebou wat op 26 Mei 1988 amptelik ingewy is.

Die hoofkantoorgebou soos dit vandag lyk.

Om landbouverwante oplossings te lewer ter bereiking van ons besigheidsdoelwitte in die verkryging, verwerking, verskaffing en verkoop van landboubenodighede, produkte, dienste en produkte vir nismarkte, tot voordeel van alle belangegroepe.

  • Behoeftegedrewe
  • Deelnemend
  • Integriteit
  • Resultaatgedrewe
  • Dinamies & Innoverend
AGTERGROND

KLK Staan sterk na 80 jaar

In die tyd toe die Tweede Wêreldoorlog fel woed, word die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Karakoeltelersmaatskappy Bpk (SAKK) in die lewe geroep.

Hierdie koöperasie het hoofsaaklik ten doel gehad om aan karakoelprodusente “een organisasie te bied waardeur hulle hul velle* kon bemark”. Lede sou verder “landboubenodigdhede soos mielies, fosfate en beenmeel vir kontant teen groothandelpryse deur die koöperasie” kon koop.

Sedert daardie nederige begin, het baie water in die Oranjerivier gevloei en vandag is KLK ʼn finansieel gesonde maatskappy waarmee daar rekening gehou word. Daar was weliswaar laagtepunte op die pad, soos die insinking van die karakoelbedryf en knaende droogtes, maar dit word oortref deur vele hoogtepunte.

Die karakoelmark het in die jare tagtig ʼn drastiese afname begin toon. Dit is interessant om te noem dat daar aan die einde van die jare sewentig meer as twee miljoen pelse geproduseer is. Tans is die syfer minder as 20 000. Die afname in karakoelproduksie het die begin van die hantering van lewende hawe gekenmerk (1982). SAKK het toe BKB se belange in die gebied oorgeneem en die naam is in 1985 na die karakoel- en Lewendehawe Koöperasie (KLK) verander.

In 1992 het KLK met die Trans Oranje Koöperasie geamalgameer. Dit was die voorloper van samesmeltings met Kenhardt Vleiskoöperasie en WKK (Calvinia). Op 17 September 1997 word KLK ’n maatskappy. Elke koöperasielid word ’n aandeelhouer in dié nuutgestigte maatskappy en vir die volgende dekade groei dit met rasse skrede: veilingsentra, handelstakke, voertuigagentskappe, versekeringsagentskappe, abattoirs, brandstofverspreidingsdepots en vulstasies word bygevoeg.

In 2015 het KLK met ’n 50%-aandeel in Carpe Diem Raisins tot die rosynebedryf toegetree. Vyf jaar later word ’n verdere 30%-aandeel bekom. In 2019 word Senwes, wat voorheen geen belang in KLK gehad het nie, die meerderheidsaandeelhouer met 57,44% van die aandele.

Voor die Senwes oorname het KLK bestaan uit ± 2000 aandeelhouers. Subtropico is die tweede grootste aandeelhouer met 31,78% en dan die oorblywende aandeelhouers wat bestaan uit 10,78%. Vandag bestaan KLK uit 681 aandeelhouers. KLK tree proaktief op tydens die COVID-19- pandemie deur herstrukturering in sekere afdelings te doen, op koste en margebestuur te fokus en risikobestuur toe te pas. Dit is op hierdie nalatenskap van durf, daad en deursettingsvermoë uit die verlede dat KLK die toekoms met visie en vertroue aanpak om die volgende doelpaal te bereik.

* Daar is aanvanklik van karakoelvelle gepraat. In latere dokumente word daarna verwys as pelse.

KLK: 80 Jaar

Tydens ’n vergadering in die Gordonia-hotel te Upington op 24 September 1941, stig een-en-twintig belangstellendes die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Karakoeltelersmaatskappy Bpk (SAKK).

Op 28 November 1941 word SAKK amptelik as koöperasie geregistreer. Die droё klimaat van die noordwestelike dele van die land het oor jare ’n groot invloed op die denke van die mense van die gebied gehad. Risiko’s word versigtig, gedissiplineerd en met verantwoordelikheid bestuur. KLK is deurlopend só bestuur en daar kan vandag met trots oor die tagtig jaar teruggekyk word. Deur die jare het KLK die vermoë gehad om van rigting te ver ander wanneer dit nodig was. Die vermoë om op ’n volhoubare finansiële basis dienste te lewer aan die mense van die noordweste, loop soos ’n goue draad deur die afgelope 80 jaar. Ons bring hulde aan elke toegewyde lid van die KLK-personeel, ons kliënte en aandeelhouers oor agt dekades.

Kobus Marais

Voorsitter

JA (Jimmy) Connan, voorsitter 1950 - 1957, 1959 - 1965 en 1966 - 1977

Na 8 dekades steeds 1ste

Eerste karakoelskape word ingevoer.

1907

1907

Eerste georganiseerde vergadering van karakoel pro dusente lei tot die stigting van die Karakoeltelersvereniging (KTV).

1937

1937

Eerste besending (853) karakoelpelse word na Londen versend.

1937

1937

Eerste noemenswaardige krisis vir die KTV duik op toe dit weens die Tweede Wêreldoorlog nie meer raadsaam was om pelse Londen toe te stuur nie.

1940

1940

Eerste registrasie van die Suid-Afrikaanse Koöperatiewe Karakoeltelersmaatskappy (SAKK) as koöperasie.

1941

Die eerste sekretaris van die nuwe koöperasie was F le R Minnaar wat die pos tot sy bedanking in 1958 beklee het.

1941

SAKK kry toestemming om sy eerste erf te koop en ’n eie kantoor en stoor daar op te rig.

1945

1945

Daar word die eerste keer van Karakoel- en Lewendehawe Koöperasie (KLK) gepraat na die samesmelting tussen SAKK en BKB in die streek.

1985

1985

KLK se eerste hoofkantoor word amptelik ingewy.

1988

1988

Die eerste uitgawe van KLK Gesprek verskyn.

2008

2008

Van die eerste sonkragprojekte in KLK se bedie ningsgebied sien die lig en KLK voorsien boumateriaal, toerusting, brandstof en bergingsfasiliteite.

2013

2013

Die heel eerste afslaerskompetisie in die land word gehou en Dawid Nel, afslaer by KLK, is die algehele wenner.

2013

2013

Carnarvon Abattoir word die eerste skaapabattoir in Suid-Afrika om die gesogte FSSC 22000-sertifi sering (onafhanklike, internasionale voedselveiligheidsbestuurstelsel) te ontvang.

2015

2015

Eerste KLK-brandstofkaart word uitgereik waarmee KLK-lede op rekening by kleinhandelrybane brandstof kan koop.

2018

2018

Weens die COVID-19-inperkings op sosiale byeenkomste, is KLK se jaarlikse toekenningsgeleentheid vir die eerste keer ooit virtueel aangebied. Die spoggerige aanlyn geleentheid is via YouTube aangebied.

2020

2020

Finansiële resultate behaal die eerste keer meer as R80 miljoen (R81,1 miljoen).

2021

2021